Die Beeld-Kinderfonds het in die vorige finansiële jaar sowat R 3.2 miljoen uitbetaal aan verskeie ontwikkelingsprojekte, wat deur betroubare welsynsorganisasies aangebied word. Die organisasies lewer dienste aan kinders in nood. Die kinders wat deur die organisasies gehelp word is uit alle bevolkingsgroepe en die omstandinghede waarin baie van die kinders leef of aan blootgestel word is armoede, hongersnood, verwaarlosing, mishandeling en molestering.
Die welsynsorganisasies wat gekeur word vir ‘n toekenning uit die Beeld-Kinderfonds, lewer volhoubare dienste en kon bewys lewer van goeie finansiële bestuur. Meer as 9000 kinders het baat jaarliks by die geld wat Beeld-Kinderfonds ingesamel.
Wie kan aansoek doen om befondsing? Geregistreerde nie-winsgewende organisasies met ontwikkelingsprogramme om kinders in nood te ondersteun en te bemagtig en minstens 5 jaar al bestaan. Beeld-Kinderfonds befonds ontwikkelingsprojekte en nie bedryfskostes nie. Aansoeke sluit jaarliks op 31 Januarie. Die aansoekvorm kan tussen 15 November en 20 Januarie aangevra word by info@beeldkinderfonds.co.za
Die hulp wat Beeld-Kinderfonds gee kan in ‘n paar kategorieë ingedeel word:
– N G WELSYN:
NG Welsyn is ‘n kinder- en gesinsorgorganisasie wat omvattende maatskaplikewerkdiens lewer aan mense in nood. Probleme soos kindermishandeling en –molestering, MIV en Vigs, armoede en gesinsproblematiek word aangespreek. Hulle bedien meer as 4000 kinders oor die hele Noordwes provinsie.
– MES in Johannesburg werk met arm mense in die middestad en het uitgebreide dienste in die gemeenskap. Beeld-Kinderfonds ondersteun die dienste aan kinders. Voorskoolse kinders word deur MES se kleuterskole gevorm en gebrei; skoolleerders word bemagtig deur hulp met huiswerk, naskoolse programme, jeuggroepe en kampe; jong volwassenes en jeugdigdes word bemagtig deur vaardigheidsopleiding en die Joshua-diensjaar;
– FAMSA Potchefstroom se geweldvoorkomingsprogramme word ondersteun, waarby sowat 3500 kinders baat. Die programme word aangebied by laerskole in die gebiede in en om Potchefstroom tot so ver as Ventersdorp. Die programme is voorkomend en het ten doel om leerlinge toe te rus met kennis en vaardighede om veilig te kan bly in situasies van geweld. Om leerlinge bekend te stel aan sosiale vaardighede soos respek en goeie maniere. Woede kry spesifiek aandag, asook gesonde gewoontes wat betref die hantering van woede.
– Kamcare Maatskaplike dienste,
Die befondsing aan Kamcare is vir die Reading Eggs rekenaargebaseerde program, wat in Leeuwfontein- en Kameeldrift plakkerskampe buite Pretoria, aangebied word. Dit bevorder kognitiewe ontwikkeling, blootstelling aan Engels, rekenaars en lees. Dit het baie goeie resultate om hierdie kinders wat in baie ellendige toestande lewe se leesvermoë, taalvaardigheid, hand-oog-koördinasie en rekenaarvaardighede te ontwikkel.
Webwerf met trots geborg deur:
AccTech Systems (Pty) Ltd.

Webwerf met trots geborg deur:
AccTech Systems (Pty) Ltd.