+27 (0)11-976-2273

Nuus

Welsynsorganisasies wat die afgelope jaar skenkings ontvang het, sluit in:

Die Beeld-Kinderfonds het aan die einde van Maart hierdie jaar R 3,286,640 uitbetaal aan verskeie ontwikkelingsprojekte, wat deur betroubare welsynsorganisasies aangebied word.   Die organisasies lewer dienste aan kinders in nood.  Die kinders wat deur die organisasies gehelp word is uit alle bevolkingsgroepe en die omstandinghede waarin baie van die kinders leef of aan blootgestel word is armoede, hongersnood, verwaarlosing, mishandeling en molestering.  Byna al hierdie kinders het ontwikkelingsagterstande. Twintig organisasies het suksesvol aansoek gedoen, die aansoeke word oorweeg deur ‘n paneel van maatskaplike kundiges.  Die welsynsorganisasies wat gekeur is vir ‘n toekenning uit die Beeld-Kinderfonds, lewer volhoubare dienste en kon bewys lewer van goeie finansiële bestuur.  Meer as 6500 kinders baat hierdie jaar by die geld wat Beeld-Kinderfonds die afgelope jaar ingesamel het.

Met die oog op die Covid-19 pandemie en die gevolge van die nasionale inperking weet ons reeds dat baie meer mense hul werk verloor het en veral laer inkomste groepe meer kwesbaar is.  Beeld-Kinderfonds ondersteun vanjaar 24 welsynsorganisasies wat 6513 kinders in nood, help.

Hoop is ongeloofik belangrik en die werk wat welsynsorganisasies verrig in arm gemeenskappe en met kinders wat getraumatiseerd is, gee presies dit, HOOP! Ons wil graag dankie sê aan Beeld, elke Beeld leser en ondernemings wat die afgelope jaar die Beeld-Kinderfonds ondersteun het en dit vir ons moontlik gemaak het om hulp en hoop te gee. Dis die hoop op ‘n beter lewe wat baie kinders in hierdie programme die moed gee om die geleenthede wat aangebied word aan te gryp.

Die hulp wat Beeld-Kinderfonds gee kan in ‘n paar kategorieë ingedeel word:

KINDERHUISE wat hulp ontvang het is Abraham Kriel Bambanani in Johannesburg, Huis Tekna in Bela-Bela, die Hervormde Kerk se Pleegsorghuise, Bethany House in Krugersdorp, Catherine Robson in Vereeniging en die Abraham Kriel Kinder-en Jeugsorgsentrum in Potchefstroom. Ek glo die meeste mense weet vandag dat kinders wat in kinderhuise en pleegsorghuise opgeneem word, nie weeskinders is nie, maar dat hulle van hul ouers verwyder is deur ‘n hofbevel as gevolg van verwaarlosing, mishandeling en seksuele molestering. Beeld-Kinderfonds befonds terapie, uitstappies, spesiale onderwys, ekstra klasse in vakke soos Wiskunde, vervoerkostes, toebroodjies vir skool en kleuterskoolfooie.

KLEUTERSKOLE: Hulp aan gemeenskapskleuterskole:
Dit is vir Beeld-Kinderfonds belangrik dat arm kinders toegang kry tot kleuterskole en voorskoolse onderrig. Weens armoede en ouers se onkunde woon baie kinders nie ‘n kleuterskool by nie en loop uiters belangrike voorskoolse ontwikkeling mis. Kinders wat met die projek gehelp word leef in groot armoede, baie in haglike omstandighede en baie word daagliks blootgestel aan hongersnood en gesinsgeweld. In hierdie gevalle is ouers is dikwels verslaaf aan alkohol en of dwelms. Die kinders het groot ontwikkelingsagterstande en die geleentheid om ‘n kleuterskool by te woon bied voeding, stimulering en ‘n plek van veiligheid gedurende die dag. Kinders se kognitiewe-, fisiese-, emosionele- en sosiale ontwikkeling word aangespreek. Dit is alom bekend dat vroeë ontwikkeling en skoolgereedheid uiters belangrik is vir ‘n kind se vermoë om op skool te vorder en uiteindelik sy of haar skoolloopbaan te voltooi. Die kleuterskole volg ‘n opvoedkundige program wat gebasseer op die NCF (Nasionale Kurrikullum Raamwerk wat alle VROEË LEER-EN ONTWIKKELINGSAREAS insluit.
Beeld-Kinderfonds ondersteun tans die volgende kleuterskole: ATKV-ABBASORG in Promosa, Tjokkertjies van the Cradle of Hope in Krugersdorp, Thusa Tshwane se 8 kleuterskole in die weste van Pretoria.

GETRAUMATISEERDE KINDERS
Christelik Maatskaplike Raad Noord en Rata Maatskaplike Dienste, werk as kinderbeskermingsorganisasies met kinders wat uit gesinne kom waar daar fisiese, emosionele of seksuele mishandeling of verwaarlosing plaasgevind het, milieugestremdheid kom dikwels ook voor. Die gevolg is ontwikkelingsagterstande by kinders wat kognitiewe, emosionele en fisiese agterstande insluit. ‘n Groot hoeveelheid van die kinders wat CMR en RATA bedien, kry spel -, arbeids- en spraakterapie. ‘n Holistiese benadering en indiwiduele terapieprogram word vir elke kind opgestel.
Die volgende dienste word gelewer: Die identifisering van kinders wat as gevolg van erge mishandeling of verwaarlosing deur die hofproses beveilig moet word. Om deur die proses van assessering, fisiese, kognitiewe en emosionele ontwikkelingsagterstande te identifiseer en om die agterstande oor ‘n tydperk aan te spreek. Om kinders in alternatiewe sorg te plaas waar hierdie kinders veilig is en waar agterstande deur middel van terapie asook mediese ingryping aangespreek word. Ondersteuning aan kinders en gesinne in proses van hoë konflik egskeidings om enige lantermyn emosionele en kognitiewe skade te vermy en of te verminder.
Om ondersteuningsdienste te lewer aan die biologiese gesinne met intervensies soos ouerleiding, huweliksberading en terapie, om kinders in gesinne te beveilig of waar kinders verwyder is, moontlike terugplasing te bewerkstellig

RATA Maatskaplike dienste
Assessering en terapeutiese dienste aan Rata Maatskaplike Dienste bied ontwikkelingskampe aan pleegkinders, behoeftige kinders en kinders betrokke by hulle maatskaplike dienste, waar daar gefokus word op hul geestelike, sosiale, intellektuele en sosiale vaardighede deur die aanbieding van terapeutiese groepe en individuele sessies, asook ontwikkelingsaktiwiteite. Kinders geniet die kampe en is meer ontspanne, dit gee aan maatskaplike werkers geleentheid om op ‘n meer persoonlike vlak toe te tree om probleme te identifiseer en te hanteer.  Die geld wat Beeld-Kinderfonds toeken word ook gebruik vir RATA se geletterdheidsprogram vir laerskoolkinders te Phuthaditshaba Laerskool in Saulsville

‘n Voorbeeld van die verskil wat hierdie dienste maak: Storie van hoop: 6 Kinders is 2 jaar gelede vanuit hul biologiese ouers se sorg verwyder weens ernstige verwaarlosing. Die kinderrs het kopluise gehad, die baba het brandboudjies gehad, hulle was uitgehonger en baie vuil, ens. Beide ouers het in ‘n agterkamertjie op ‘n erf gewoon en was beide werkloos. Die kinders is in alternatiewe sorg geplaas, waar hulle vir terapeutiese insette ingeskakel is. Die oudste broer was verlede jaar onderhoofseun van sy skool. Die ouers het betrokke geraak by Rata se ouerleidingsprogram en het die vader werk as motorwerktuigkundige bekom vir ‘n inkomste. Kontak tussen die ouers en kinders vind gereeld plaas en kon die kinders reeds vir naweke en vakansies huistoe kom weens die ouers se verbeterde omstandighede. Terugplasing van hierdie kinders in hul ouers se sorg word beplan Vir Junie 2020.

GEMEENSKAPSPROJEKTE:
♦ Echo Jeugontwikkeling het befondsing ontvang vir Echo se roei- en groeikampe is geskoei op die beginsel van leer en ontwikkel deur ervaring. Omdat ons kinders uit gebroke omgewings kom en dikwels aan trauma blootgestel was, ontbreek hulle meestal aan basiese vaardighede. Ons kampe fokus op ontwikkeling van sosiale vaardighede soos spanwerk, probleemoplossing, deursettingsvermoë. Die kampe fokus ook op die aanleer en blootstelling van nuwe vaardighede en ervarings. Selfbeeld, kommunikasievaardighede en emosionele ontwikkeling word aangespreek.

♦ NG Welsyn Noordwes, (Raymond, ons kan hierdie baie verkort en dalk ‘n aparte storie doen oor die uitbreide dienste wat NG Welsyn Noordwes aanbied. Hulle is ook die organisasie wat die grootste bedrag gekry het.)
NG Welsyn is ‘n kinder- en gesinsorgorganisasie wat, onder andere, ‘n omvattende, ontwikkelingsgerigte, professionele maatskaplikewerkdiens lewer aan mense in nood. Probleme soos kindermishandeling en –molestering, MIV en Vigs, armoede en gesinsproblematiek word aangespreek.
NG WELSYN BEDIEN MEER AS 2100 KINDERS OOR DIE HELE NOORDWES PROVINSIE EN IS BETROKKE BY DIE VOLGENDE:
Daar moet in kinders se basiese behoeftes voorsien word vir optimale ontsluiting van hul potensiaal.
Volgens die “South African Child Gauge 2019” soos gepubliseer deur die “Children’s Institute” woon 59% van kinders in Suid-Afrika in huishoudings waar die inkomste minder as R1183 per maand per capita is en 30% van die kinders woon in huishoudings waar geen volwassene werk en dus ‘n inkomste verdien nie. Dit lei daartoe dat daar nie in hierdie kinders se basiese behoeftes voorsien kan word nie.
‘n Ander maatskaplike probleem, veral in arm gemeenskappe is, “disrupted caregiving”. Dit is waar die ouers afwesig in die kind se lewe is, waar die ouers siek is, waar kinders grootgemaak word deur versorgers wat nie hul biologiese ouers is nie, of waar kinders verlaat (‘abandon’) word.
• Kwaliteit versorging in dagsorgsentrums, by dagmoeders en nasorgsentrums word bevorder word as plekke waar kinders veilig is, gestimuleer en ondersteun word om hulle volle potensiaal te ontwikkel.
Moeders word in groepsessies geleer van “Nurturing care” (goeie versorging) van kinders, veral in die eerste 1000 dae (vanaf konsepsie tot die ouderdom van 2 jaar) is belangrik. Nie net ter wille van oorlewing nie, maar ook vir die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal.
Dit skep geleentheid om nie net toe te sien dat in kinders se basiese behoeftes voorsien word nie, maar bied ook ondersteuning aan ouers en ander versorgers om kinders te help beskerm teen “disruptive caregiving”. Aktiwiteite wat die binding tussen die versorger en kind versterk is van groot belang vir die kind se ontwikkeling en om uitvalle/maatskaplike probleme in die toekoms te voorkom.
Die kinders leef meestal in hoë-risiko omstandighede waar hulle blootgestel is aan erge trauma wat hulle op alle vlakke van hulle menswees negatief beïnvloed en hulle normale fisiese, psigiese en emosionele ontwikkeling strem. Dit verhoed dus dat hulle tot hulle volle potensiaal ontwikkel. Dit is belangrik dat kinders reeds op voorskoolse vlak ondersteun en ontwikkel word ten einde te verseker dat hulle goed presteer op skool en hulle skoolloopbane voltooi.
Die armoede probleem verhoog kinders se weerloosheid. ʼn Voorbeeld hiervan is dat kinders dikwels honger skool toe gaan en as gevolg daarvan nie na wense kan presteer op skool nie. Hulle verlaat dikwels skool op ‘n jong ouderdom en die gevaar bestaan dat hulle dan in dieselfde armoede siklus kan verval. Kinders raak ook betrokke by dwelms of tieners raak swanger. Hierdie kinders word dikwelsuitgebuit deur volwassenes om by misdaad betrokke te raak en so ʼn inkomste te verdien.

NG Welsyn bied die volgende aan:
Ouerleidingsessies om ouers te lei in kwessies soos versorging, dissipline, stimulering en ondersteuning met skoolwerk sodat kinders hulle potensiaal kan ontsluit. Ouerleiding help ook om “disruptive care” te voorkom.
Hulp, leiding en ondersteuning te bied aan 150 kinders wat in hoë risiko omstandighede leef, asook getraumatiseerde kinders.
Om 197 kinders te begelei en met vaardighede toe te rus om in selfstandige volwassenes te ontwikkel en die siklus van gesinsproblematiek te breek. Dit sal gedoen word deur middel van 4 projekte in skoolvakansies gedurende Julie, Oktober en Desember, asook ‘n 2 tienergroepe wat oor 8 sessies strek gedoen word. Daar gaan gefokus word op die hantering van agressie, uitbou van selfbeeld, hantering van boelies en voorkoming van boeliegedrag, selfbeeld ontwikkeling, voorkoming van dwelmmisbruik en voorkoming van seksuele misbruik.
Vroëe kinderjare ontwikkelingsprogramme en nasorgprogramme
Om hulpbronne daar te stel, soos effektiewe dagsorgsentrums en dagmoeders om in kinders se behoeftes te voorsien. Opleiding aan dagmoeders vind op ‘n gereelde basis plaas. Die mikpunt is om 180 voorskoolse kinders daarby te laat baat.
Voedsel te voorsien aan 30 kleuters wat deel is van vroëe kinderjare ontwikkelingsprogramme op ‘n deurlopende basis – 5 dae ‘n week gedurende skoolkwartale.
Bewusmakingsprojekte teen die mishandeling en molestering. Aktiwiteite vir 1097 kinders in die breë gemeenskap word beplan om kinders in te lig rakende hulle regte en hoe om hulself te beskerm.
Verwysing van 45 kinders vir terapie na kliniese sielkundiges, kundiges wat forensiese assesserings kan doen, arbeidsterapeute ens. Verwysings vind deurlopend plaas soos die behoefte identifiseer word.
Om die dwelmmisbruik van 20 ouers wat d.m.v. die misbruik hulle kinders se veiligheid en sekuriteit bedreig, te monitor.
Om ‘n program vir 30 skoolverlaters wat in pleegsorg is aan te bied ten einde ‘n positiewe toekomsvisie by hulle te kweek en hul positief in te stel oor moontlikhede vir die toekoms na skool. Om dus aan hulle hoop te gee.
Om dagmoeders op te lei om kinders bedags te versorg en vroeë kinderjare ontwikkelingsprogramme aan te bied sodat hulle kan ontwikkel op fisies, psigies en emosionele vlak.
Om ondersteuningsgroepe vir kinders in pleegsorg aan te bied ten einde algemene sosiale probleme wat hulle ervaar deur middel van die dinamika in die groepe aan te spreek, beter bindings met die pleegouers te bevorder en noodsaaklike lewensvaardighede vir hulle aan te leer.
Om skoolbenodigdhede en –skoolklere aan 50 kinders wat in omstandighede van uiterste armoede leef te voorsien. Dit is belangrik dat kinders nie tuis bly omdat hulle nie toegerus is vir skool nie.

♦ MES in Johannesburg werk met arm mense in die middestad en het uitgebreide dienste in die gemeenskap. Beeld-Kinderfonds ondersteun die dienste aan kinders. Voorskoolse kinders word deur MES se kleuterskole gevorm en gebrei; skoolleerders word bemagtig deur hulp met huiswerk, naskoolse programme, jeuggroepe en kampe; jong volwassenes en jeugdigdes word bemagtig deur vaardigheidsopleiding en die Joshua-diensjaar;

♦FAMSA Potchefstroom se geweldvoorkomingsprogramme word ondersteun, waarby sowat 3500 kinders baat. Die programme word aangebied by laerskole in die gebiede in en om Potchefstroom tot so ver as Ventersdorp. Die programme is voorkomend en het ten doel om leerlinge toe te rus met kennis en vaardighede om veilig te kan bly in situasies van geweld. Om leerlinge bekend te stel aan sosiale vaardighede soos respek en goeie maniere. Woede kry spesifiek aandag, asook gesonde gewoontes wat betref die hantering van woede. Om hul te bemagtig om afknouery teen te staan en hulself te kan beskerm teen kuberboelies. Om hul bewus te maak dat geweld nie normaal is nie te leer van die reg om vry van mishandeling en geweld te leef. Om respek vir hulself, mekaar, die teenoorgestelde geslag, hul besittings en hul onderwysers te kweek. Om hul bewus te maak van die rolle van mans en vrouens sodat hulle eendag hul rol in die gesin kan verstaan en dit nie misbruik nie (graad 7’s). Om leerlinge bewus te maak van die verskillende tipes geweld in die gesin, skole en samelewing (graad 7’s). Om leerders wat met emosionele of sosiale probleme geïdentifiseer word op te volg en die nodige hulp te bied.

♦Kamcare Maatskaplike dienste,
Die befondsing aan Kamcare is vir die Reading Eggs rekenaargebaseerde program, wat in Leeuwfontein- en Kameeldrift plakkerskampe buite Pretoria, aangebied word. Dit bevorder kognitiewe ontwikkeling, blootstelling aan Engels, rekenaars en lees. Dit het baie goeie resultate om hierdie kinders wat in baie ellendige toestande lewe se leesvermoë, taalvaardigheid, hand-oog-koördinasie en rekenaarvaardighede te ontwikkel. By Leeuwfontein skool skakel alle graad R leerders in die program word ook vanjaar uitgebrei na 3 ander kleuterskole in die omgewing. Hierdie vroeë jare kinderontwikkeling het ‘n geweldige positiewe impak op die kinders se lewens. Kinders wat hierdie program gevolg het, maak goeie vordering op skool. Dit het ook ‘n impak om die gemeenskap omdat hierdie kinders skool geniet. Ouers is trots op hulle kinders se vordering en leesvaardighede en dit moedig meer kinders aan om die program by te woon en skool toe te gaan. Dit skep hoop op ‘n beter toekoms vir baie mense in die nedersetting.

♦ Tshwane Kinderwelsyn se Vlerke-program vir kinders in pleegsorg en van Bramleykinderhuis. Die program se doel is om die 260 kinders wat deel is van die program fisies, emosioneel en sosiaal so gesond en sterk as moontlik maak. Die program sluit in:
• Selfbeeldontwikkelingsprogramme vir die senior dogters en seuns, wat insluit persoonlike higiene en versorging, interpersoonlike verhoudings en seksualiteit.
• Groepsessies oor HIV en ander siektes van ons tyd en hoe om daarmee saam te leef, verantwoordelikheid vir die gesin en hoe om as hoof van die gesin te oorleef, persoonlike veiligheid, sosiale media en ander euwels van die tyd.
• Ons kry akademiese helpers wat kinders in kritieke grade van skool kom ondersteun voor die eksamens en het bv in 2019 ‘n gemiddelde styging van 20% in kinders se prestasie gesien. Ons spandeer geld aan die ekstra klasse deur onder meer vir die kinders ‘n lekker bederfie te gee soos ‘n hamburger (om die ekstra klasse op ‘n Saterdag by te woon).
• Geleentheid om kampe en matriekafskeide by te woon.
• Mentorskap program vir jong seuns en meisies (pre-teens) waar ons baie fokus op selfkennis en selfontwikkeling (10 -13 jariges).
• Sewentien en agttienjariges kry geleentheid om leerling- en bestuurslisensies te kry.

Storie van hoop, Kindersorg Tshwane:
‘n Seun, wat deur sy eie vader molesteer is, kom Augustus 2018 in die Kinderhuis. Sy punte lyk sleg en daar is twyfel of hy graad 11 sal slaag. Met ekstra klasse, spesiale terapie en begeleiding slaag hy in 2019 matriek met bogemiddelde punte en gaan hy vanjaar verder studeer. Hy het ‘n leerlinglisensie, ID dokumente en alles wat nodig is vir hom om sy toekoms aan te pak.
Met die inperking wat grootliks voortduur, is die gevolg dat die Kinderfonds se projekte soos gholfdae en die Spinfietsmarathon op die langebaan geskuif word en ons gevolglik nie inkomste het nie. Ek wil elke Beeld leser vra om die Beeld-Kinderfonds te ondersteun op enige van die volgende maniere:

• Skenk 10% van die bedrag wat jy gedurende aan April aan brandstof sou spandeer.
• Hou ‘n Skype of Zoom kuier met jou vriende en vra elkeen om die R25 wat julle elk aan koffie sou spandeer in ‘n
koffiewinkel, aan die Kinderfonds te skenk.
• Raak betrokke – Ons soek mense om ‘n uitdaging te doen en geld in te samel vir BKF, soos om ‘n aantal kilometer draf of fiets te ry. Byvoorbeeld kyk hoeveel kilometers in die 3 toegelate ure (06:00 – 09:00) kan draf, stap of trap, en vra jou vriende, kennisse en besigheidskontak om jou te borg per kilometer en skenk daardie geld aan die Kinderfonds.
• Donasies is baie welkom en kan van belasting afgetrek word. Betaal Beeld-Kinderfonds, ABSA, rek 2840 157 329, gebruik jou selfoonnommer en van as verwysing.
• Maak ‘n bydrae met jou kredietkaart met Snapscan. Laai die app gratis af en volg die maklike stappe. Dis ‘n veilige betaalstelsel en maak gebruik van in PIN. – (Gebruik asb die snapscan kode hieronder)
Navrae kan gerig word aan Adrie van Staden, tel 0614794791 of epos: info@beeldkinderfonds.co.za

Opsomming:  Welsynsorganisasies en nie-winsgewende organisasies wat hierdie jaar befondsing ontvang het, is:  

  • Abraham Kriel Kinder- en Jeugsentrum, Potchefstroom
  • Abraham Kriel Bambanani, Johannesburg
  • Catherine Robson Kinderhuis, Vereeniging
  • NG Welsyn Noordwes
  • Pleegsorghuise van die Hervormde Kerk
  • RATA Maatskaplike dienste van die Hervormde Kerk
  • Kindersorg Tswane.
  • Lochvaal Gemeenskapsentrum en -kleuterskool
  • The Cradle of Hope in Krugersdorp.
  • Kinderprogramme van FAMSA in Potchefstroom.
  • Naskoolsentrums en jeugprogramme van MES (Middestad Evangelie & Sending), Johannesburg
  • THUSA Pretoria se kleuterskole en opleidingsprogramme
  • ATKV Abbasorg se kleuterskool in Promosa
  • Kamcare Maatskaplike Dienste in die Kameeldrift en Leeuwfontein areas
  • Echo Jeugontwikkeling
  • CMR Noord se Red-‘n-Kindprojek
  • Huis Tekna, ‘n kinderhuis in Bela-Bela
  • Bethany House in Krugersdorp
  • Beeld-Kinderfonds gee ook studiehulplenings aan behoeftige jongmense vir voorgraadse studies of ambagsopleiding.

Wie kan aansoek doen om befondsing?

Geregistreerde nie-winsgewende organisasies wat dienste lewer aan kinders in nood en minstens 5 jaar al bestaan, kan aansoek doen.

Beeld-Kinderfonds befonds slegs ontwikkelingsprojekte en nie bedryfskostes nie.

Aansoeke sluit jaarliks op 31 Januarie, laat aansoeke sal nie aanvaar word nie.

Slegs aansoeke wat volledig voltooi is in die voorgeskrewe formaat, sal oorweeg word.

Aansoekvorms  kan aangevra word by info@beeldkinderfonds.co.za