+27 (0)11-976-2273

Nuus

Welsynsorganisasies wat die afgelope jaar skenkings ontvang het, sluit in:

Die Beeld-Kinderfonds het aan die einde van Maart hierdie jaar sowat R 4 miljoen uitbetaal aan verskeie ontwikkelingsprojekte, wat deur betroubare welsynsorganisasies aangebied word.   Die organisasies lewer dienste aan kinders in nood.  Die kinders wat deur die organisasies gehelp word is uit alle bevolkingsgroepe en die omstandinghede waarin baie van die kinders leef of aan blootgestel word is armoede, hongersnood, verwaarlosing, mishandeling en molestering.  Byna al hierdie kinders het ontwikkelingsagterstande. Twintig organisasies het suksesvol aansoek gedoen, die aansoeke word oorweeg deur ‘n paneel van kundiges.  Die welsynsorganisasies wat gekeur is vir ‘n toekenning uit die Beeld-Kinderfonds, lewer volhoubare dienste en kon bewys lewer van goeie finansiële bestuur.  Meer as 9000 kinders baat hierdie jaar by die geld wat Beeld-Kinderfonds die afgelope jaar ingesamel het.

Wie kan aansoek doen om befondsing?  Geregistreerde nie-winsgewende organisasies met ontwikkelingsprogramme om kinders in nood te ondersteun en te bemagtig en minstens 5 jaar al bestaan.  Beeld-Kinderfonds befonds ontwikkelingsprojekte en nie bedryfskostes nie. Aansoeke sluit jaarliks op 31 Januarie.  Die aansoekvorm kan tussen Oktober en Januarie aangevra word deur ‘n epos te stuur na info@beeldkinderfonds.co.za

Hoop is ongeloofik belangrik en die werk wat welsynsorganisasies verrig in arm gemeenskappe en met kinders wat getraumatiseerd is, gee presies dit, hoop! Ons wil graag dankie sê aan elke persoon en onderneming wat die afgelope jaar die Beeld-Kinderfonds ondersteun het en dit vir ons moontlik gemaak het om hulp en hoop te gee.

Die hulp wat Beeld-Kinderfonds gee kan in ‘n paar kategorieë ingedeel word:

KINDERHUISE wat hulp ontvang het is Abraham Kriel Bambanani in Johannesburg, Jakaranda Kinderhuis in Pretoria, Huis Tekna in Bela-Bela, die Hervormde Kerk se Pleegsorghuise, Bethany House in Krugersdorp, Catherine Robson in Vereeniging en die Abraham Kriel Kinder-en Jeugsorgsentrum in Potchefstroom. Ek glo die meeste mense weet vandag dat kinders wat in kinderhuise en pleegsorghuise opgeneem word, nie weeskinders is nie, maar dat hulle van hul ouers verwyder is deur ‘n hofbevel as gevolg van verwaarlosing, mishandeling en seksuele molestering. Beeld-Kinderfonds befonds terapie, uitstappies, spesiale onderwys, ekstra klasse in vakke soos Wiskunde, vervoerkostes, toebroodjies vir skool en kleuterskoolfooie.

GEMEENSKAPSKLEUTERSKOLE: Dit is vir Beeld-Kinderfonds belangrik dat arm kinders toegang kry tot kleuterskole met die oog op skoolgereedheid. Weens armoede en ouers se onkunde woon baie kinders nie ‘n kleuterskool by nie en loop uiters belangrike voorskoolse ontwikkeling mis. Kinders wat met die projek gehelp word leef dikwels in groot armoede, sommige in haglike omstandighede en word daagliks blootgestel aan hongersnood en soms ook gesinsgeweld. In hierdie gevalle is ouers is dikwels verslaaf aan alkohol en /of dwelms. Die kinders het groot ontwikkelingsagterstande en die geleentheid om ‘n kleuterskool by te woon bied voeding, stimulering en ‘n plek van veiligheid gedurende die dag. Kinders se kognitiewe-, fisiese-, emosionele- en sosiale ontwikkeling word aangespreek. Dit is alom bekend dat vroeë leergeleenthede uiters belangrik is vir ‘n kind se vermoë om op skool te vorder en uiteindelik sy of haar skoolloopbaan te voltooi. Die kleuterskole volg ‘n opvoedkundige program wat gebasseer op die NCF (Nasionale Kurrikullum Raamwerk wat alle VROEË LEER-EN ONTWIKKELINGSAREAS insluit.
Beeld-Kinderfonds ondersteun die volgende kleuterskole: ABBASORG in Promosa, Tjokkertjies van the Cradle of Hope in Krugersdorp, Lesedi Dagsorg in Gravelotte en Thusa Tshwane se program om personeel op te lei by 8 kleuterskole in die weste van Pretoria.

MAATSKAPLIKE DIENSTE
Beeld-Kinderfonds ondersteun die werk van maatskaplike dienste soos N G Welsyn, die Christelik Maatskaplike Raad Noord en Rata. Hulle lewer omvattende, ontwikkelingsgerigte, professionele maatskaplikewerkdiensteaan mense in nood. Probleme soos kindermishandeling en –molestering, MIV en Vigs, armoede en gesinsproblematiek  word aangespreek. Hulle werk as kinderbeskermingsorganisasies met kinders wat uit gesinne kom waar daar fisiese, emosionele of seksuele mishandeling of verwaarlosing plaasvind.  Baie van hierdie kinders het ontwikkelingsagterstande en kry onder meer, berading, spel-, arbeids- en spraakterapie.  Die maatskaplike rade is ook betrokke by die identifisering van kinders wat as gevolg van erge mishandeling of verwaarlosing deur die hofproses beveilig moet word, sulke kinders word geassesseer om fisiese, kognitiewe en emosionele ontwikkelingsagterstande te bepaal en dit aan te spreek.    Ondersteuning word gegee aan kinders en gesinne in proses van hoë konflik egskeidings om enige lantermyn emosionele en kognitiewe skade by die kinders te vermy en of te verminder.
Maatskaplike dienste gee ook aan gesinne ouerleiding, huweliksberading en terapie. Hulle help om kinders in gesinne te beveilig of waar kinders verwyder is, moontlike terugplasing te bewerkstellig indien die omstandighede dit toelaat.  Op groter skaal in maatskaplike dienste ook betrokke by die bemagting van kinders deur hulle sosiale en intellektuele vaardighede te ontwikkel, meesal in groepverband om meer kinders te bereik.

‘n Voorbeeld van die verskil wat hierdie dienste maak deel ons hierdie storie van hoop: Ses kinders is twee jaar gelede vanuit hul biologiese ouers se sorg verwyder weens ernstige verwaarlosing. Die kinderrs het kopluise gehad, die baba het brandboudjies gehad, hulle was uitgehonger en baie vuil, ens.  Beide ouers het in ‘n agterkamertjie op ‘n erf gewoon en was beide werkloos. Die kinders is in alternatiewe sorg geplaas, waar hulle vir terapeutiese insette ingeskakel is. Te danke aan die ingrype en emosionele groei wat plaasgevind het, is die oudste kind verkies tot onderhoofseun van sy skool. Die ouers het ingeskakel by ‘n ouerleidingsprogram en weens die ondersteuning van maatskaplike dienste het die vader werk as motorwerktuigkundige bekom.  Kontak tussen die ouers en kinders is geleidelik herstel en weens verbeterde omstandighede kon die kinders naweke en vakansies huistoe gaan en die potensiaal van ‘n herstelde gesin word in die voortuitsig gestel.

GEMEENSKAPSPROJEKTE:  Beeld-Kinderfonds ondersteun gemeenskapsorganisasies se ontwikkelings-projekte om bepaalde behoeftes aan te spreek, waar ander welsynsorganisasies nie kan help nie. MES se jeugontwikkelingsprogram in Johannesburg, ECHO-Jeugontwikkeling se huise en programme vir tieners wat haweloos was, KAMCARE se hulp aan arm gemeenskappe en spesifiek ondersteuning aan kleuterskole in Kameeldrift en FAMSA Potchefstroom se geweldvoorkomingsprogramme, maak die lewe beter vir baie kinders en tieners wat groot nood ervaar.

MEER INLIGTING OOR DIE PROJEKTE WAT DEUR BEELD-KINDERFONDS ONDERSTEUN WORD:

Hierbo is ‘n samevatting van die groot werk wat gedoen word in die welsynsveld om kinders in nood te help.  Die inligting hieronder fokus op die uitgebreide dienste wat gelewer word in arm gemeenskappe waar daar min hulpbronne is en kinders baie minder kennis en toegang tot inligting het.  Ons verskaf hierdie inligting om aan jou, die leser, ‘n beter idee te gee van hoe omvattend die nood in arm gemeenskappe is en ‘n beter idee van die hulp wat verskaf word.

N G WELSYN:
NG Welsyn is ‘n kinder- en gesinsorgorganisasie wat, onder andere, ‘n omvattende, ontwikkelingsgerigte, professionele maatskaplikewerkdiens lewer aan mense in nood. Probleme soos kindermishandeling en –molestering, MIV en Vigs, armoede en gesinsproblematiek word aangespreek.
NG WELSYN BEDIEN MEER AS 2100 KINDERS OOR DIE HELE NOORDWES PROVINSIE EN IS BETROKKE BY DIE VOLGENDE:
Daar moet in kinders se basiese behoeftes voorsien word vir optimale ontsluiting van hul potensiaal.
Volgens die “South African Child Gauge 2019” soos gepubliseer deur die “Children’s Institute” woon 59% van kinders in Suid-Afrika in huishoudings waar die inkomste minder as R1183 per maand per capita is en 30% van die kinders woon in huishoudings waar geen volwassene werk en dus ‘n inkomste verdien nie. Dit lei daartoe dat daar nie in hierdie kinders se basiese behoeftes voorsien kan word nie.
‘n Ander maatskaplike probleem, veral in arm gemeenskappe is, “disrupted caregiving”. Dit is waar die ouers afwesig in die kind se lewe is, waar die ouers siek is, waar kinders grootgemaak word deur versorgers wat nie hul biologiese ouers is nie, of waar kinders verlaat (‘abandon’) word.
• Kwaliteit versorging in dagsorgsentrums, by dagmoeders en nasorgsentrums word bevorder word as plekke waar kinders veilig is, gestimuleer en ondersteun word om hulle volle potensiaal te ontwikkel.
Moeders word in groepsessies geleer van “Nurturing care” (goeie versorging) van kinders, veral in die eerste 1000 dae (vanaf konsepsie tot die ouderdom van 2 jaar) is belangrik. Nie net ter wille van oorlewing nie, maar ook vir die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal.
Dit skep geleentheid om nie net toe te sien dat in kinders se basiese behoeftes voorsien word nie, maar bied ook ondersteuning aan ouers en ander versorgers om kinders te help beskerm teen “disruptive caregiving”. Aktiwiteite wat die binding tussen die versorger en kind versterk is van groot belang vir die kind se ontwikkeling en om uitvalle/maatskaplike probleme in die toekoms te voorkom.
Die kinders leef meestal in hoë-risiko omstandighede waar hulle blootgestel is aan erge trauma wat hulle op alle vlakke van hulle menswees negatief beïnvloed en hulle normale fisiese, psigiese en emosionele ontwikkeling strem. Dit verhoed dus dat hulle tot hulle volle potensiaal ontwikkel. Dit is belangrik dat kinders reeds op voorskoolse vlak ondersteun en ontwikkel word ten einde te verseker dat hulle goed presteer op skool en hulle skoolloopbane voltooi.
Die armoede probleem verhoog kinders se weerloosheid. ʼn Voorbeeld hiervan is dat kinders dikwels honger skool toe gaan en as gevolg daarvan nie na wense kan presteer op skool nie. Hulle verlaat dikwels skool op ‘n jong ouderdom en die gevaar bestaan dat hulle dan in dieselfde armoede siklus kan verval. Kinders raak ook betrokke by dwelms of tieners raak swanger. Hierdie kinders word dikwelsuitgebuit deur volwassenes om by misdaad betrokke te raak en so ʼn inkomste te verdien.

NG Welsyn bied die volgende aan:
Ouerleidingsessies om ouers te lei in kwessies soos versorging, dissipline, stimulering en ondersteuning met skoolwerk sodat kinders hulle potensiaal kan ontsluit. Ouerleiding help ook om “disruptive care” te voorkom.
Hulp, leiding en ondersteuning te bied aan 150 kinders wat in hoë risiko omstandighede leef, asook getraumatiseerde kinders.
Om 197 kinders te begelei en met vaardighede toe te rus om in selfstandige volwassenes te ontwikkel en die siklus van gesinsproblematiek te breek. Dit sal gedoen word deur middel van 4 projekte in skoolvakansies gedurende Julie, Oktober en Desember, asook ‘n 2 tienergroepe wat oor 8 sessies strek gedoen word. Daar gaan gefokus word op die hantering van agressie, uitbou van selfbeeld, hantering van boelies en voorkoming van boeliegedrag, selfbeeld ontwikkeling, voorkoming van dwelmmisbruik en voorkoming van seksuele misbruik.
Vroëe kinderjare ontwikkelingsprogramme en nasorgprogramme
Om hulpbronne daar te stel, soos effektiewe dagsorgsentrums en dagmoeders om in kinders se behoeftes te voorsien. Opleiding aan dagmoeders vind op ‘n gereelde basis plaas. Die mikpunt is om 180 voorskoolse kinders daarby te laat baat.
Voedsel te voorsien aan 30 kleuters wat deel is van vroëe kinderjare ontwikkelingsprogramme op ‘n deurlopende basis – 5 dae ‘n week gedurende skoolkwartale.
Bewusmakingsprojekte teen die mishandeling en molestering. Aktiwiteite vir 1097 kinders in die breë gemeenskap word beplan om kinders in te lig rakende hulle regte en hoe om hulself te beskerm.
Verwysing van 45 kinders vir terapie na kliniese sielkundiges, kundiges wat forensiese assesserings kan doen, arbeidsterapeute ens. Verwysings vind deurlopend plaas soos die behoefte identifiseer word.
Om die dwelmmisbruik van 20 ouers wat d.m.v. die misbruik hulle kinders se veiligheid en sekuriteit bedreig, te monitor.
Om ‘n program vir 30 skoolverlaters wat in pleegsorg is aan te bied ten einde ‘n positiewe toekomsvisie by hulle te kweek en hul positief in te stel oor moontlikhede vir die toekoms na skool. Om dus aan hulle hoop te gee.
Om dagmoeders op te lei om kinders bedags te versorg en vroeë kinderjare ontwikkelingsprogramme aan te bied sodat hulle kan ontwikkel op fisies, psigies en emosionele vlak.
Om ondersteuningsgroepe vir kinders in pleegsorg aan te bied ten einde algemene sosiale probleme wat hulle ervaar deur middel van die dinamika in die groepe aan te spreek, beter bindings met die pleegouers te bevorder en noodsaaklike lewensvaardighede vir hulle aan te leer.
Om skoolbenodigdhede en –skoolklere aan 50 kinders wat in omstandighede van uiterste armoede leef te voorsien. Dit is belangrik dat kinders nie tuis bly omdat hulle nie toegerus is vir skool nie.

MES in Johannesburg werk met arm mense in die middestad en het uitgebreide dienste in die gemeenskap. Beeld-Kinderfonds ondersteun die dienste aan kinders. Voorskoolse kinders word deur MES se kleuterskole gevorm en gebrei; skoolleerders word bemagtig deur hulp met huiswerk, naskoolse programme, jeuggroepe en kampe; jong volwassenes en jeugdigdes word bemagtig deur vaardigheidsopleiding en die Joshua-diensjaar;

FAMSA Potchefstroom se geweldvoorkomingsprogramme word ondersteun, waarby sowat 3500 kinders baat. Die programme word aangebied by laerskole in die gebiede in en om Potchefstroom tot so ver as Ventersdorp. Die programme is voorkomend en het ten doel om leerlinge toe te rus met kennis en vaardighede om veilig te kan bly in situasies van geweld. Om leerlinge bekend te stel aan sosiale vaardighede soos respek en goeie maniere. Woede kry spesifiek aandag, asook gesonde gewoontes wat betref die hantering van woede. Om hul te bemagtig om afknouery teen te staan en hulself te kan beskerm teen kuberboelies. Om hul bewus te maak dat geweld nie normaal is nie te leer van die reg om vry van mishandeling en geweld te leef. Om respek vir hulself, mekaar, die teenoorgestelde geslag, hul besittings en hul onderwysers te kweek. Om hul bewus te maak van die rolle van mans en vrouens sodat hulle eendag hul rol in die gesin kan verstaan en dit nie misbruik nie (graad 7’s). Om leerlinge bewus te maak van die verskillende tipes geweld in die gesin, skole en samelewing (graad 7’s). Om leerders wat met emosionele of sosiale probleme geïdentifiseer word op te volg en die nodige hulp te bied.

Kamcare Maatskaplike dienste,
Die befondsing aan Kamcare is vir die Reading Eggs rekenaargebaseerde program, wat in Leeuwfontein- en Kameeldrift plakkerskampe buite Pretoria, aangebied word. Dit bevorder kognitiewe ontwikkeling, blootstelling aan Engels, rekenaars en lees. Dit het baie goeie resultate om hierdie kinders wat in baie ellendige toestande lewe se leesvermoë, taalvaardigheid, hand-oog-koördinasie en rekenaarvaardighede te ontwikkel. By Leeuwfontein skool skakel alle graad R leerders in die program word ook vanjaar uitgebrei na 3 ander kleuterskole in die omgewing. Hierdie vroeë jare kinderontwikkeling het ‘n geweldige positiewe impak op die kinders se lewens. Kinders wat hierdie program gevolg het, maak goeie vordering op skool. Dit het ook ‘n impak om die gemeenskap omdat hierdie kinders skool geniet. Ouers is trots op hulle kinders se vordering en leesvaardighede en dit moedig meer kinders aan om die program by te woon en skool toe te gaan. Dit skep hoop op ‘n beter toekoms vir baie mense in die nedersetting.

css.php